Oos Transvaal

Oos Transvaal

Geskiedenis van Bokkieweek deelname

In 1993 het Oos Transvaal binne 36 uur hul eerste o/19 en o/13 Rugbyspan na Rustenburg gestuur in tannie Ina Nolte se Kombi en Colin van Rooyen se bantam bakkie. Die rugby truie het ons by Laerskool Mooinooi in Kempton Park geleen vir die toernooi. Omdat hierdie kinders mekaar eers in die Kombi leer ken het, was ‘n oefen sessie voor die tyd onmoontlik. Die wedstryde was hard, maar van die veld af die wonderlikste kinders. Met Laetitia van Rooyen as afrigter en Ina Nolte as spanbestuurder het die span nie te sleg gedoen nie. Ons het in ’n koshuis gebly waar die seuns gedurende die nag  ’n blikkie in die hande gekry het en dit vol klippies gemaak en by Vrystaat ( wat baie ernstig oor die toernooi was) in die gang afgegooi en weer vinnig terug kamer toe gehardloop, met Ds. Klopper kort op hulle hakke. Jan Nienaber en Fred Terblanche het die o/19 span afgerig.

In 1994 te Rustenburg wen die o/13 Rugbyspan die trofee met Colin van Rooyen as afrigter en Nols Vosloo as spanbestuurder.  In 1995 neem ons deel  aan die Bokkieweek in Klerksdorp met Fred Rabie as afrigter en Hendrik Grobler as spanbestuurder vir die o/13 en Lampies Jonker as afrigter en Fielies Treurnich as spanbestuurder vir die o/19 rugbyspan.

By Nylstroom in 1996 deel die o/13 rugbyspan die wenners trofee en kies ons, ons eerste o/13 Netbalspan met Laetitia van Rooyen as afrigter/bestuurder.  In 1997 het ons twee o/19 rugby spanne, een onder die afrigting van Danie Smith en die ander met Lampies Jonker as die afrigter. Ons netbal het ook gegroei en stuur ’n  o/13 en o/16 span om ons te verteenwoordig saam.

 In 1998 deel ons o/19 rugbyspan die wenners trofee met Suid-Oos Transvaal te Kleinfontein.  1999 het ons,  ons eerste o/19 dogters hokkiespan gekies. Sandra Steyn was die afrigter en Chrisna Jv Vuuren die spanbestuurder maar as gevolg van onttrekking wat ons die aand voor ons vertrek het en omdat Sandra en Chrisna albei nog o/19 was, word ons gedwing om hulle in die span op te trek en Laetitia van Rooyen as afrigter van die span te maak. Laetitia het daardie jaar geleer wat hokkie is.

By Kroonstad in 2000 was dit koud maar die kinders het dit oorleef en Oos Transvaal het hul goed van hul taak gekwyt. 2001 gaan ons na Middelburg met ons eerste o/19 Netbalspan en o/16 Hokkiespan met Coen Fick as afrigter en Hendrik en Annatjie Botha as bestuurders. Die Kavaliers was die enigste span wat die finaal gehaal het, maar het ongelukkig verloor. In 2002 te Morgenzon wen die o/16 Rugbyspan die trofee met Danie Smith as afrigter en Jaco Smit as spanbestuurder en stig ons eerste seuns hokkiespan. 2003 word Chris van Zyl gekies as ’n Bokkiespan Keurder.  In 2004 gaan ons na Naboomspriut met al ons spanne, gedurende die laaste dag se wedstryde besluit die o/16 afrigters Leonardo en Colin van Rooyen om hulle voorspelers agter en hulle agterspelers voor te laat speel.

 Al die spelers het daarna gesê hulle sal nie weer kla oor die ander een se spel nie. In 2005 neem ons die eerste o/14 Hokkiespan saam na Middelburg en wen die toernooi met Coen Fick en Anke Erasmus as afrigter en spanbestuurder. 2006 was die o/14 Hokkiespan weer die trofee wenners met Coen Fick en E Groblelaar as afrigter en spanbestuurder.  Die meisies wat gekies was vir die Hokkiespan het na Nederland gereis en wat hulle sê die tyd van hul lewens gehad. In 2007 het ons twee van elke onder 13, 16 en 19 rugbyspanne gehad en besluit om hulle die Arende te noem. Noelene J van Vuuren word tweede jaar as Nasionale Bokkie verkies in Hokkie. In 2008 het ons netbal goed gevaar, die o/16 en o/19 het albei as naaswenners geëindig. Daardie jaar was Elouis Snyman gekies as mej. Bene. Ons het ook in hierdie jaar begin deelneem aan die Krieket week en stuur 4 spanne om te deel.

2011 - Jan J van Vuuren word as President verkies en skryf ons ook dan 'n Seuns Hokkiespan in, met redelike sukses. Daar is wye belangstelling en lewer ook in 2013 en 2014 'n Bokkie op. Ons Redenaars verower groot welslae onder Salomè Calitz en Loraine van der Merwe, en word in 2014 vir die vyfde agtereenvolgende jaar as Redenaar wenners Algeheel gekroon onder hul leierskap, en lewer ook Bokkies op in elk van die jare!

2015 Winter Bokkieweek breek toe aan en Oos Transvaal onderskei hulself weer met puik prestasies en lewer in totaal 5 Nasionale Bokkies op. Die Redenaar span onder leiding van Salomè Calitz verower die sesde keer agtereenvolgend die trofee as die Algehele Wenners!

2016 - Oos Transvaal doen mee aan die hulpskema met die groot droogte wat Kroonstad ondervind en skenk sowat 10 000 liter water aan die gemeenskap voor die aanvang van die Bokkieweek. Hierdie is die Juweeljaar vir O-Tvl om gekroon te word as die Algehele Wenners van Bokkieweek. Ook die jaar waarin O/15 Seuns Hokkie begin deelneem aan die Bokkieweek asook 'n Snelbal span ingeskryf is by die Somerweek. Nodeloos omte noem dat ons Redenaars weer met die Kroon wegstap!

2017 - Ons Rugby bereik die kruin, en ons O/19 - 15 man Rugby sowel as die O/19 - 7's Rugby spanne wen die onderskeie Winter- en Somer Bokkieweek toernooie. Ons spog ook met 10 Nasionale Bokkies hierdie jaar.

Jan van Vuuren tree ook dan uit na afloop van die 2017 Somerweek. Hy word opgevolg deur Piet van der Merwe wat beter bekend is in die Oos Transvaal asook Nasionale AVS Rugby kringe.

Webwerf : http://bokkie.webplus.net/